Flink

Totsiens.

Totsiens mede Flinkers, tot ons mekaar weer sien.

 

Vir die afgelope paar maande wik en weeg ek of ek hierdie groot stap moet neem, maar iemand het eendag vir my gesê “trust your gut” en met daardie gedagte het ek besluit om eers vir Flink te laat rus.

 

Ek is nie seker wat die toekoms vir my of Flink inhou nie, maar ek het volle vertroue dat dit wat vir “ons” wag, nóg groter sal wees as dit wat verby is.

 

Mede Flinkers, ek weet nie hoe om vir julle dankie te sê nie. Dankie dat ek my droom kon uitleef en my kreatiwiteit kon vier deur vir julle produkte te maak. Ek is ongelooflik dankbaar en geëerd om vir soveel mede Flinkers vreugde te kon verskaf deur ’n stukkie Flink. Die tyd en die moeite wat ek ingesit het om julle pakkies te verpak, het vir my eindelose vreugde verskaf. Om nie eers te praat van die positiewe terugvoer en die voorreg om elkeen van julle in julle stukkie Flink te sien nie.

 

Vir die wat nie weet nie, ek het Flink op die ouderdom van 21 begin, met geen besigheidservaring nie. Met elke nuwe tree het ek iets nuuts geleer, nuwe kennis opgebou en my voete stadig maar seker gevind. Ek het nagte om gesit en gewerk, navorsing gedoen, hempies se detail op die moue gewerk en julle bestellings voltooi. 

 

Ek het regtig nooit in my wildste drome gedink dat hierdie my realiteit vir só lank sou wees nie.

 

Hierdie droom sou nie moontlik gewees het sonder my pa, ma, sussie en kêrel nie. Julle was van dag een af daar vir my en het my nooit ophou ondersteun nie. Dankie vir die steunpilaar wat julle vir my was  Daar was soveel mense wat ‘n groot rol in Flink gespeel het, familie, vriende en kliënte. Sonder julle motivering was die Flink droom al lankal verby. 

 

Mede Flinkers, ek wil graag afsluit met die volgende: Droom, droom groot! Enige iets is moontlik as jy jou kop neersit en in jouself glo. Kry vir jou ’n ongelooflik ondersteuningsnetwerk, want hulle gaan jou dra wanneer tye moeilik raak. Volg jou eie kop en doen net! Mag jy nooit ophou droom nie x

 

Dankie vir 4 en ‘n halwe jaar se ondersteuning, dit was een wonderlike avontuur! 

 

Tot ons mekaar weer sien.

 

Groete en liefde

Karla Swanepoel